Uiteindelik in die VSA
Na 30 ure op vliegtuie en lughawens is ons uiteindelik in Urbana Champaigne. Vier van ons het weliswaar nie saam met ons bagasie hier aangekom nie, maar ons is hier en dit is spierwit gesneeu. Dit is omtrent 'n aardigheid. Die vlug vanaf Atlanta na Chicago was vir my kerskaartjiemooi. Dit het behoorlik soos 'n wit lappieskombers onder op die grond gelyk. Met my verwysingsraamwerk het ek aanvanklik gedink dit is woestynsand, maar toe besef dat dit sneeu is. In Chicago het dit liggiesweg gesneeu en die vlokkies het so donserig gelyk.
Ons wooonstelle hier in Champaigne is ruim en gerieflik. Ons deel twee twee, maar elkeen het sy eie kamer. My woonstelmaat, Naomi van Stellenbosch Universiteit, is gelukkig baie gaaf en vrygewig en het aanvanklik uitgehelp met toiletware totdat my bagasie 'n dag later hier aangekom het. Hierdie sneeuman is net agter ons woonstel gebou.
Die mense bly verwys na die 'corn fields of Illinois', wat hier oorkant die pad is, maar al wat ons sien, is sneeu. Hierdie corn fields het 'n interessante storie. Die geboue rondom, die biblioteek op die kampus ingesluit, word so ontwerp dat dit nie 'n skaduwee op die koringvelde mag gooi nie. Aanvanklik was hier blykbaar 'n landboukollege. Nou nog is hier 'n groot landbou departement.
Vandag het ons grootliks spandeer aan exploring en het twee maal baie ver gaan stap. My voete is behoorlik gedaan vanaand. Op pad busstop toe - so 'n halfuur se stap, het ons by die Illinois dome verbygestap. Illinois het teen Purdue Basketball gespeel. Illinois se ondersteuners, in helder Oranje geklee, het gestroom soontoe.
Vanmiddag was ons op 'n toer per voet van die kampus. Hier is ons klompie voor die Mortensen sentrum, waar ons vanaf more begin klas loop. Vanaand was ons die gaste van die direkteur van die Mortensen sentrum, Barbara, vir 'n vroegaandete.
2 Comments:
Bly jy is veilig end at jy sommer dadelik vir jou 'n man gekry het vir geselskap ... alias die sneeuman :-)
BRRRRRRR! Bly ek bly in die karoo!! Ek dink jy het baie "sterkte" nodig. :-)))))
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home