Thursday, March 17, 2011

St Patrick's day in West Lafayette en eetgewoontes

Toe ek vanoggend in my kantoor kom, sou hierdie oulike bakkie my inwag op my lessenaar. Die inhoud is op die volgende foto te sien. Almal is in 'n feestelike stemming en heelwat mense is in groen aangetrek. Indien jy nie iets groen aanhet nie, staan jy gevaar om geknyp te word. Hier was geen optogte nie. Miskien is dit te wyte aan die feit dat dit hierdie week spring break is.





















By die werk het die tempo definitief nie verslap nie en dis business as usual. Ek het deel geword van 'n heerlike gesellige middagetegroep wat hoofsaaklik bestaan uit bibliotekarisse van die HSSE biblioteek (uitgespreek Hiesie). Dit staan vir Humanities, Social Sciences and Education. Hulle laat my nogal baie dink aan die heerlike gesellige groep wat altyd etenstye saameet in ons teekamer en die geselskap is net so stimulerend en vermaaklik.
Dit het my vandag opgeval dat ek nog nie eintlik oor die eetgewoontes van die Amerikaners, wat ek leer ken het, geskryf het nie. Koffie is 'n uiters belangrike deel van hulle daaglikse bestaan. Waar moontlik sal hulle altyd met 'n houer (nie beker nie, want alles is karton of plastiek) koffie staan. Hulle het nie goed soos teetyd by ons nie, maar almal loop altyd met 'n houer koffie werk toe, in die kantoor, klas toe, vergadering toe - altyd. Alhoewel baie biblioteke reeds toelaat dat studente in die biblioteek eetgoed inbring, kan hulle nogtans verstaan dat ons dit nie toelaat nie. Wat hulle glad nie kan verstaan nie, is dat ons nie koffie in die biblioteek toelaat nie. Hoe moet die studente dan werk?
Wat eetgewoontes aan betref: die mense waarmee ek in aanraking kom, is almal baie gesondheidsbewus en ek sien regtig nie meer oorgewig mense as in SA nie. Wat ek wel oplet, is dat mense nie in die strate of op openbare vervoer eet nie. Dit is duidelik nie deel van hulle kultuur nie. Uit die aard van die saak is daar baie 'fast food' plekke op kampus, soos wat dit maar enige plek in die wereld gaan en studente is geneig om baie koolhidrate te eet. Wat ek wel vir die oorgrote meerderheid van plekke kan se, is dat hulle porsies geweldig groot is en nie noodwendig baie smaaklik nie.
Dit het my opgeval hoeveel mense hier vegetaries is en dan nie uitsluitlik vir gesondheidsredes nie, maar gewoonlik met sterk gewetensbesware teen die eet van enige diere.
Vir my bly die lekkerste wat ek nog hier geeet het, die verskillende kere wat ek salm geeet het, maar dit kry 'n mens uit die aard van die saak nie juis hier op kampus nie. Ek is baie versigtig om ystee te bestel, want dit is terrible sleg. Dit is eenvoudig gewone tee wat koud gemaak is. Jy kan suiker bygooi as jy lus het. Soms geur hulle dit 'n bietjie, maar dit help niks. Dit bly sleg. Hier is wel een maak wat naastenby proe soos Lipton's ice tea. So, ek koop dit soms in die supermark. Ongelukkig kom dit net in glasbotteltjies en is nogal swaar om te dra, so afhangend van die res van my inkopies sal ek dit koop of nie.

1 Comments:

At March 24, 2011 at 10:17 AM , Blogger Elsabé Olivier said...

Bring hulle ook eie kos werk toe of eet hulle nie eintlik 'n middagete nie?

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home