Wednesday, February 16, 2011

Dit raak warmer

Vanoggend was so 'n pragtige oggend en die wind het nie gewaai nie, dat ons besluit het om sommer kampus toe te stap. Dit was so 'n 3/4 uur se stewige stap. Die sneeu is nou besig om te smelt en 'n mens moet maar versigtig stap met al die ys op die sypaadjies. Dit gaan soms maar so gly gly (skyt skyt?), maar ons het darem almal ongedeerd daar aangekom. Het sowaar nie eens vandag 'n serp of handskoene nodig gehad nie.

By die biblioteek aangekom, het ons by die verkeerde ingang ingegaan en so verdwaal dat ons laat by die opleidingslokaal aangekom het. Lisa Janicke Hinchliffe, President van die ACRL en Beth Woodard, koordineerder van personeelopleiding en ontwikkeling, het heeldag met ons gepraat oor inligtingsgeletterdheid. Ek het dit baie geniet en baie geleer. Ons het ook heelwat insig gekry oor wat dit beteken om 'n bibliotekaris in Amerika te wees. Dit is 'n ander ball game. Oor middagete het Lisa ons meer vertel van wat om te wagte te wees met die ACRL konferensie. Hulle verwag so 3,000 afgevaardigdes by die konferensie. Dit alles klink baie opwindend en ek sal nog 'n bietjie huiswerk moet gaan doen oor watter sessies om by te woon. Ons ontmoet nou daagliks mense wat daar as sprekers gaan optree. Dis nogal lekker en ek voel baie bevoorreg.

Nadat ons klaargemaak het vanmiddag, het ons 'n kruidenierswinkel gaan soek. Daar is vreemd genoeg niks soos 'n kafee of supermark op die kampus nie. So hier en daar 'n tipe van 'n coffee shop, maar nie 'n plek waar 'n mens kan melk koop nie en dit is wat ek vanmiddag nodig gehad het. En naellakverwyderaar. Natuurlik kry 'n mens nie klein botteltjies, so ek het 'n allemintige groot bottel gekoop wat ons nou sommer almal moet gebruik.

1 Comments:

At February 21, 2011 at 3:00 AM , Anonymous Anonymous said...

Lekker interessant

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home