Thursday, March 24, 2011

Die winter is terug

Net toe ek dink die lente is nou uiteindelik hier; toe raak dit laasnag weer winter met temperature onder 0 C. Daar was ook 'n paar verdwaalde sneeuvlokkies toe ek vanoggend werk toe gestap het en my oe het behoorlik getraan van die koue wind. Dis vir jou 'n droefgeestige affere.

Gisteraand is ek en Charlotte toe Indianapolis toe vir die jaarlikse Indiana Corn and soybean competition. Dit was nou regtig interessant. Hierdie is 'n kompetisie waaraan studente heeltemal vrywillig deelneem. Dit hou geen verband met hul klaswerk nie, maar die wenspan kry 'n prysgeld van $20,000. Spanne bestaan gewoonlik uit 4 lede. Die opdrag is dat hulle een of ander iets moet fabriseer van of sojabone of mielies. Die produk moet nuut wees (en hulle moet patentsoektogte doen of laat doen om dit vas te stel), bemarkbaar wees en goed en aantreklik verpak wees. Die hele storie is geweldig proffesioneel.

Charlotte het die meeste van hulle bygestaan in hulle patentsoektogte (dis haar spesialiteit). Ons was dan ook bevoorreg om saam met die wenspan vir die sojaproduk aan tafel te kon sit. So, jammer, vanaand is hier geen foto nie, maar die profesionele fotograaf het 'n foto van ons saam met die wenspan geneem en ek hoop om dit mettertyd te kry. Ekself het nie die vrymoedigheid gehad om foto's daar te neem nie, want behalwe die fotograaf het niemand anders foto's geneem nie.

Die saal waar die dinee gehou is, is 'n balsaal en die interieur het my baie laat dink aan Monte Casino se interieur van Italiaanse villas. Nogal heel spesiaal. Die kos was absoluut heerlik en uit die boonste rakke. Ek moet se ek waardeer nogal deesdae goeie kos as ek dit die slag kry, wat maar few and far between is. Ek is nou al 'n bietjie uitgeeet aan die studentesentrum (The Union) se kos. Gelukkig is die 3 weke van konferensie, New York en Washington in die vooruitsig.

So, hierdie naweek wat voorle, is dit weer inpak vir my. Alhoewel, ek wil probeer om slegs my kajuittassie te pak. Sal moet kyk of ek alles daarin kan kry vir 2 weke weg. Ek is nie baie lus om my groot tas op die openbare vervoer rond te sleep nie. Na die twee weke kom ek vir een dag terug en gaan dan weer Washington toe. Gelukkig hoef ek nie my hotelkamer/suite? te ontruim vir die tydperk wat ek nie hier is nie - so ek los net alles wat ek nie wil saamneem nie.

0 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home