Saturday, March 26, 2011

Kuns, voels en nuwe vriende

Vanmiddag het Nancy, een van die assistent dekane van die biblioteek, my kom oplaai vir 'n middag uit. Sy het my eerstens na hierdie unieke kunswerk van Patrick Dougharty geneem. Dit is getiteld 'Sidewinder' en is gemaak van 'black willow and red maple saplings'. Die takke is net eenvoudig in mekaar geweef. Die hele kunswerk vorm 'n doolhof van gangetjies waardeur 'n mens in werklikheid kan loop. Dit is nogal pret. Later die middag het Nancy se man, Bob, my 'n boek gewys waarin Patrick Dougherty se ander werke opgeneem is. Dit is werklik indrukwekkend. Ek is nou amptelik op soek na daai boek, maar dit het pas verskyn.




Hierdie standbeeld van die perd is gemaak deur Deborah Butterfield en staan bekend as 'Silver bow'. Dit is gemaak van brons, maar oorgetrek met natuurlike 'patina'. Dit lyk asof dit ook van takke gemaak is. Dit is Nancy wat hier staan.



Hierdie standbeeld is voor die besoekerskiosk by die 'Marsh' waar ons gaan voels kyk het. Daar is op die oomblik 'n nes waarop 'n Great Horned Owl en haar kleintjie sit. Hierdie uil het die nes nog nie een keer sedert Januarie verlaat nie, maar het volgens 'n ernstige voelkyker wat ons daar raakgeloop het, vanoggend 10:00 die nes verlaat. Toe ons vanmiddag daar kom, was sy nog steeds uit en het ons net die wit koppie van die jong uiltjie (met baie verbeelding) kon sien.



Hier is in elk geval vir julle gerief 'n prentjie van hoe hierdie uil lyk. 'n Rukkie gelede het iemand 'n video van hierdie uil en kleintjie gemaak en dit op youtube gesit. Gaan kyk gerus by http://www.youtube.com/watch?v=O_UAuzFhCRk . Dis nogal goed gedoen.

Vanoggend het ek hierdie voel voor my kamervenster in 'n boom gesien en vanmiddag uitgevind dat dit 'n 'cardinal' is en ook Indiana se 'state bird'.
Die 'red winged blackbird' is die mees algemene voel wat ons in die 'marsh' te siene gekry het. Hulle is nogal baie mooi in vlug wanneer daardie rooi gedeelte oopvou.


Persoonlik het ek die heel meeste van hierdie blue jay gehou. My foto is ongelukkig nie baie goed nie. Ek het dit van binne die besoekersentrum geneem. Hulle het amper iets soos 'n skuiling binne hierdie sentrum, waar 'n mens baie gemaklik kan sit en na die voels buite kyk. Daar is mikrofone aan hierdie voerhokkies vas wat dan die voelgeluide aan die binnekant van die gebou speel, sodat dit amper voel of jy daar by hulle is. Dit was vanmiddag nogal 'n goeie idee, want dit was verbitterlik koud. My swart hoed het net niks gehelp nie - die wind het eenvoudig dwarsdeur dit gewaai.





Ons het drie soorte eekhorinkies gesien terwyl ons daar gesit het. Hierdie een was die kleinste soort - die rooi eekhoring. Dan was daar ook die grys eekhoring en die 'fox squirrel'. Hy was die grootste van die drie en lyk nogal soos 'n jakkalsie.


Ek het soveel pragtige nuwe voels gesien vanmiddag, maar ongelukkig het my foto's maar droefgeestig uitgekom, so jammer. Hierdie een was 'n houtkapper met so 'n rooi vlek agter die kop - baie mooi, maar my zoom is ongelukkig nie so goed nie.

Vanaand het ek gaan uiteet saam met Gretchen, Charlotte en Sarah. Ons was weereens downtown toe en het hierdie keer by La Scala, 'n baie gewilde Italiaanse restaurant, gaan eet. Hulle kos is regtig aan te bevele en ek kan verstaan hoekom die restaurant so besig was.









Hier sit ek, Gretchen, Sarah en Charlotte en geniet 'n heerlike aand saam uit.

Ek antwoord net gou op sommige van die kommentare wat ek op my blogs gekry het. Johan, my bakkery brood het na 'n week darem nog nie gemuf nie.
Elsabe, sommige mense hier bring ook hulle eie kos van die huis af saam vir middagete, maar die meeste koop maar soos ek iets by die studentesentrum en dan eet ons dit almal saam daar, ongeag of jy dit daar gekoop of saamgebring het. Daar is nege verskillende plekke in die studentesentrum waar jy kan kos koop en verder oorwegend algemene sitplek rondom hierdie eetplekke. Nie een van hierdie eetplekke het mure rondom nie. Niemand sal jou verjaag as jy sommer net daar wil sit nie. Jy gaan koop jou kos, eet dit en ruim self op agter jou. Alles word bedien in weggooibare houers, wat jy in asblikke gooi wanneer jy klaar is. Jy eet ook met plastiekmesse en vurke, wat jy weggooi wanneer jy daarmee klaar is. Selfs in die hotel waar ek bly, is daar slegs plastiekbekertjies, bordjies, messe, vurke en lepels. Dit is die eerste ding wat ek vir my gaan koop het nadat ek hier gekom het; 'n glasbeker, 'n glas, en behoorlike messe, vurke en lepels. Dit was vir my te erg om tee uit 'n kartonbekertjie te moet drink.


0 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home