Saturday, March 12, 2011

Saterdag in Tippecanoe

Ek is vanoggend met Lafayette se City bus vir die eerste keer tot anderkant die Wabashrivier. Net daar laai die bus 'n mens dan ook af en moet jy 'n ander bus haal om verder te gaan, maar ek wou mos nou juis daardie gedeelte met die voet verken. So, toe stap ek.

Die wind was bitterlik koud, maar siende dat die son nou al van gister af skyn, het ek regtig gedink dit is seker nou al 'n bietjie opgewarm - foutjie. Ek was nie warm genoeg aangetrek nie en het meer as dikwels gewonder hoe ver 'n mens se avontuurlustigheid nou veronderstel is om te strek. Ek was voorwaar die enigste mens in die strate en het regtig gewonder hoekom hulle dit nou juis Downtown noem. Selfs Calvinia is besiger op 'n Saterdagoggend.

Daar was darem 'n hele paar geboue wat besonder mooi was . Die mees indrukwekkendende een is die Tippecanoe County Courthouse hier langsaan. Die volgende foto is een van die Courthouse se deure wat ek van naderby gaan afneem het.


Dan is daar nog 'n paar geboue wat vir my besonder mooi was. Verder was daar net 'Antique shops'. Ek het seker nie 'n oog vir antieke ware nie, maar vir my het dit na ou 'junk' gelyk. Maar, die mense hier is nogal sterk op ou huise en antiekware. Hulle renoveer graag en kan gewoonlik presies vir jou se uit watter tydperk hulle huise kom en wat die styl is, ens.

Ek het gehoor dat 'n mens nou vreeslike 'bargains' op winterklere kan kry, maar nerens kry ek 'n enkele klerewinkel of iets wat 'n mens 'n mall sou noem nie. Ek het nou juis gedink dat 'n lekker groot mall ideaal sou wees vir hierdie koue dag. Nadat ek toe omtrent 'n uur lank rondgedwaal en niks gekry het, behalwe koud nie, gaan ek by 'n kleinerige winkeltjie in en vra. So sou ek toe agterkom dat die Tippecanoe mall besonder ver is en dat ek 'n bus moet haal. Ek gaan staan toe maar buite en wag vir omtrent 'n halfuur voordat 'n bus daar verbykom en sowaar aan die verkeerde kant van die pad ry en my soos 'n stopstraat ignoreer. Toe stap ek maar na die volgende busstop en staan nog 'n halfuur in die koue en verwens my vir my eie hardkoppigheid om nie om te draai en terug te gaan waar ek vandaan kom nie.

Uiteindelik het ek darem by die Tippecanoe Mall uitgekom en dit was die moeite werd. Het genoeg geld uitgegee om oor my frustrasie van sukkel te kom. Hierdie Amerikaners kombineer nie klerewinkels en kruidenierswinkels nie. So, toe ek uiteindelik klaar is by die Mall, moes ek nog 'n blok of wat stap om by 'n Pay Less supermark uit te kom om my kruideniersware wat gedaan is, aan te vul. Dit is nogal 'n uitdaging om nie te veel melk en water en yogurt op 'n slag te koop nie, want dit is vreeslik swaar om te dra.


Hierdie is net 'n interessante huis waar ek in my omswerwinge in Downtown by verbygestap het.
Ek het uiteindelik oor 7 uur vanaand by my hotel aangekom. Water is nou die een ding wat ek darem in die hotel se 'vending machines' kan kry. Toe ek vanaand gaan soek, is al die water uitverkoop by twee van die masjiene en die een wat het, werk nie. Toe drink ek maar Diet Coke saam met my aandete van slaai. Dit was lekker.






1 Comments:

At March 14, 2011 at 11:54 AM , Blogger Elsabé Olivier said...

Dis 'n koue wat 'n men moeilik kan beskryf...dis baie anders as ons winterkoue. Maar ek is bly jy durf nog steeds die vreemde aan.

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home