Monday, February 28, 2011

Ek verloor my hart in Chicago















Vier dae in Chicago en wat 'n ervaring. Dis 'n heerlike lewendige stad met baie wat gebeur en aanhou gebeur en so baie om te kyk en te beleef. Donderdag het ons eie bus ons voor ons deur kom oplaai en twee en 'n half uur later in Chicago voor die American Library Association se kantore afgelaai. Die oggend het ons in die geselskap van die Association of College and Research Libraries (ACRL) deurgebring en was beindruk met wat hulle organisasies alles vir biblioteek en inligtingkunde en die beroep in die algemeen in Amerika doen. Hulle stel bv standaarde op en is die mense wat voorloop met nuwe ontwikkelings.

Die middag het ons Loyola universiteit se ongelooflike Research Commons teen die Michigan meer besoek. Die tegnologie van daardie biblioteek het my geweldig beindruk. Vrydag het ons 'n uurlange treinrit na Northwestern Universiteit geneem en die dag daar deurgebring. Al hierdie mense het deeglike programme saamgestel waardeur hulle ons ingelig het oor hul werksaamhede. Hierdie besoeke is regtig die hoogtepunte van ons tyd hier by die Mortensen sentrum, want hulle gaan wys regtig vir ons die beste van die bestes.

Ten spyte daarvan dat ons gedaan was teen die tyd wat dit aand raak, het ons die beste gemaak van ons tyd in Chicago. Dit is immers die stad van jazz en blues. Donderdagaand, nadat ons ingeboek het in die Club Courters Hotel, wat heerlik sentraal gelee was, het ons eerstens die Chicago Art Institute gaan besoek. Ek het 'n audio toer gedoen en die hoogtepunte terdee geniet, want dit was omtrent wat ek in 2 ure kon inpas.

Daarna is ons na Andy's Jazz bar, waar ons na 'n lewendige jazz band geluister het en heerlik geeet het. Ek het gebraaide salm gehad en kan dit sterk aanbeveel. Ek het ook agtergekom dat jazz musiek nie regtig my scene is nie - bietjie vervelig na my smaak.

Vrydagaand is ons toe na die House of blues toe. Nou hierdie het heelwat meer in my smaak geval. Die restaurant is versier met die interessantste kunswerke en daar was sommer net 'n heerlike ontspanne atmosfeer. Ons is aangeraai om van die 'southern cuisine' te probeer, maar ek het liewer hierdie catfish bestel, wat ook baie lekker was, al was dit nou in 'n degie gebraai. Dit vis self was lig en vlokkerig.

Saterdag (ons afdag in Chicago) het dit die heeldag gesneeu en ons kan nou almal se dat ons werklik weet wat koue is. Nogtans het ons die koue aangedurf en 'n paar van ons het die Hop on hop off trolley geneem en die stad daarmee gaan verken. By die Sears Tower (nou die Willis tower) - die hoogste wolkekrabber in Chicago, moes ons hoor dat die sigbaarheid bo van die toring af 0 - 15% was. Drie van ons het besluit om 'n ekstra dag agter te bly en het besluit om maar te wag vir Sondag voordat ons opgaan met die toring. Die res van die dag het ek op en af die bus geklim, maar dit het vir my ek het meer gewag vir die bus as wat ek daarop was en in die proses byna verkluim.














So het ek die oggend op 'n stadium afgeklim om 'n betoging te aanskou en te probeer agterkom waaroor dit nou eintlik gaan. Tydens middagete het ek 'n tafel met 'n ondersteuner van die betoging gedeel en sy het verduidelik dat dit primer gaan oor 'n wet wat die regering 2 uur in die oggend deurgestem het en wat nou die laer werkersklas benadeel. Nadat die betoging gereel is, het almal wat een of ander probleem met die regering of enige ander saak het, hulle sommer ook by die betoging aangelas en in die omgewing waar ek afgeklim het, was daar twee faksies wat vir en teen aborsie betoog het. Die polisie was tussenin en het die vrede probeer bewaar. 'n Interessante affere en dit ten midde van die koue en sneeu.


Die middag het ek meeste van my tyd in die Field Museum deurgebring. Dit is verskriklik groot en dek historiese en natuurlike geskiedenis van die Amerikas. Ek het begin met 'n 3-D Imax vertoning oor Sue, die dinausaurus Rex, wat in Amerika opgegrawe en gerekonstrueer is. Hulle het 'n reuse afdeling oor dinausaurusse (weet nou nie lekker van die spelling nie). Ook van perde , die geskiedenis van die Amerikas, natuurlike ontwikkeling daarvan, vuurspuwende berge, ens. ens. Saterdagaand het ons besluit ons vat nie weer die koue aan nie en het sommer in die hotel se eie restaurant deep dish pizza geeet. Buitendien is dit die enigste restaurant waar Oprah Winfrey haar pizzas vandaan bestel. Dit was regtig die moeite werd.

Hierdie is natuurlik ook waar Barack Obama senator was voordat hy president geword het. By die Northwestern University het hulle 'n hele versameling wat oor Obama gaan of met items wat sy gesig ophet. Daar is selfs 'n hele klomp items wat uit Suid-Afrika kom.


Sondagoggend kon ons ons oe nie glo nie. Die lug was blou en die son het geskyn en dit was net die mooiste dag denkbaar. Ons is dadelik na die Sears tower toe. Daar het ons eers na 'n video oor Chicago gekyk en toe besef waarom die argitektuur van Chicago so besonders is. Die ganse stad het in die 1800's afgebrand en moes van onder af opgebou word. Die beste argitekte en stadsbeplanners van oor die wereld het dit as 'n groot uitdaging beskou en Chicago as 'n geheel beplan en uitgele. Die opgaan met die hysbak was baie interessant. Hulle stop omtrent elke 34 vloere, maak die deure oop, en gaan dan weer aan vir nog 34 vloere, en so aan. 'n Mens se ore slaan vreeslik toe en dit gee 'n mens dan ten minste kans om te 'equalise'. Dit klink soos 'n duiker wat na die oppervlak kom, ne? Bo gekom, was die uitsig absoluut fantasties. Glo dit of nie, maar ek het selfs op daar glasvloere, wat uitstaan, met my hoogtevrees en al, uitgeklim, maar ek is seker julle kan die vrees in my oe op die foto sien.

Na hierdie ervaring wou ons baie graag die argitektuurtoer doen, maar toe ons daar kom, was die volgende toer eers van 1 uur tot 3 uur die middag. Ons moes reeds 3 uur 'n bus haal om by die stasie te kom om ons bus terug te haal Champaigne toe, so was bang dat ons dit nie sou maak nie en het dit toe maar gelos.



Toe gaan stap ek maar in die Millenium park en neem foto's in die groot boontjie. Daarna moes ek natuurlik die 'Magnificent mile' gaan stap om te sien wat die 'shops' als oplewer. Ek het reeds hier in Champaigne agtergekom dat Macy's 'n klerewinkel is wat met my praat. Dit is 'n kettingwinkel, soortgelyk aan Woolworths, net baie groter en die oorspronklike een is daar in Chicago. Die winkel beslaan 'n hele blok en bestaan uit 4 of 5 vloere. Hierdie een in Chicago se interieur en uitstallings het my nogal aan Harrod's in London laat dink. Dit is 'n belewenis. Ten spyte van die uitverkopings, het ek maar met die oe geshop. Ek het darem 'n heerlike middagete daar geeet; 'n mens moet mos eet. Ons lotjie het in ons tydjie in Chicago geleer van die Corner Bakery Cafe en dit goed ondersteun. Ek het ook hulle mengsel van Kaas popcorn en caramel popcorn geeet. Dit was vir my 'n baie vreemde kombinasie.

Ek sal definitief moet teruggaan Chicago toe, want ek moet nog daai argitektuurtoer gaan doen, ek wil nog by die Hancock toring opgaan en ook die Science museum gaan besoek en kyk of ek verder langs die Magnificent Mile kan vorder as net Macy's.

Dit was nie net ons wat koud gekry het nie; kyk hierdie hondjie se skoentjies, om van sy jassie nie eens te praat nie.

Labels:

2 Comments:

At March 2, 2011 at 10:30 PM , Blogger Unknown said...

Jinne, ek wens ek was daar saam met julle!

 
At March 4, 2011 at 12:01 AM , Anonymous Anonymous said...

Lekker ge-virtual-toer saam met jou!

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home