Tuesday, May 10, 2011

St. Augustine, Charleston en Williamsburg

Ons besoek die een historiese dorp na die ander. Eers is ons na St. Augustine, Florida, 'n pragtige Spaanse dorpie, wat redelik outentiek behoue gebly het.

Daarna is ons na Charleston, South Carolina. Genade, het ek gesukkel om hierdie mense te verstaan. Die southern aksent is iets verskrikliks en ons doen toe sowaar twee toere op hierdie dag. Op die foto hier langsaan staan ek in die pragtige tuine van die Magnolia plantasie net buite Charleston.


Met al ons getoer het ons ook heelwat wedervaringe. Hier is Benjamin, die petroljoggie.












Hier is Benjamin die koerier. Hy moes by 'n padstal vir my stop om daardie sakkie lemoene en die heerlikste vars neute te koop. Die lemoene en pomelo's is die lekkerste vrugte wat ek hier kry om te eet.









Als wat ons hier aanvang, is seker nie goed en reg nie, want hier is ons in blokke in die Britse historiese dorpie, Williamsburg, Virginia. In St. Augustine was ons op 'n 'ghost tour' en het in die tronk en uiteindelik by die galg opgeeindig.
















Vanmiddag het ons 'n interaktiewe toneel meegemaak oor die geskiedenis van Williamsburg. Ons is van plek tot plek saam met die toneelgroep wat vir ons gewys en deelgemaak het van die oorspronklike geskiedkundige gebeure hier in die ou historiese dorp. Dit was baie interessant en het behoorlik met 'n 'bang'
geeindig.

Friday, May 6, 2011

Disney World

Hierdie is die plek waar drome waar word.

































Die eerste dag is ons na die Epcot park, wat ongelooflik was.

Ons is met 'n simulasietuig mars toe gestuur. Dit was erg, maar lekker. Ons het verskeie goed meegemaak en beleef. Onder andere in 'n sweeftuig oor verskeie landskappe gesweef. Dit was waarskynlik vir my die lekkerste van alles.

Ons het ook na twee lande op 'n 360 grade skerm gekyk. 'n Mens kyk letterlik staande daarna en probeer jou nek afdraai om al die kante gelyk te kan sien.

Die tweede dag is ons na Animal world. Dit was nie heeltemal so goed as die vorige dag nie. Ons hoogtepunte hier was die 'flight show' waar 'n verskeidenheid werklike voels in vlug aan ons vertoon is. Ek het nooit besef die condor en 'bald eagle' is so groot nie. Die ander hoogtepunt was die 'It's hard to be a bug' show. Dit was 'n imax vertoning, maar die bugs het ons aangeval en actially van agter in die rug gesteek. 'n Hele klomp kinders was in trane. Heel aan die einde het 'n mens gevoel hoe 'n klomp goggas onder jou sitvlak deurhardloop. Grillerig.








Hier is die voertuig waarmee ons op safari gegaan het deur Afrika.




























Friday, April 22, 2011

Benjamin is eindelik hier en West-Lafayette is in bloei

Benjamin het gisteraand twee ure vroeg hier aangekom - ag hoe lekker!!! Hy se hy het die vliegtuigloods gedreig en toe vlieg hy vinniger. Toe kon hy die vroeer shuttle haal en siedaar. Dit was nou nie 'n oomblik te vroeg nie, want 10 weke alleen in die vreemde is 'n laaaaang tyd.









Om die tyd om te kry gisteraand, het ek op die kampus rondgeloop en die pragtige bloeisels afgeneem. Hier is 'n paar foto's. Ek kan nie glo dat die dooie stompe van 'n paar weke gelede nou so pragtig lyk nie.











Nog steeds is dit nie vreeslik warm nie en gaan West Lafayette gebukkend onder storms en het selfs nou die aand 'n amper tornado beleef. Dit was nogal vreesaanjaend toe die alarms afgaan. Daar was voortdurende waarskuwings op die televisie. Genadig het die beker my toe darem verbygegaan.

Verlede Sondag het ek omtrent 'n minder aangename belewenis op Dulles lughawe, Washington gehad. My 5:00 nm vlug is gekanselleer. Die vorige dag was daar ook verskriklike storms en die lughawe was in chaos
gedompel. Ek is op bystand geplaas vir 'n 10:00 vlug, no. 17 op 'n lys van 33. Uiteindelik was ek die laaste een om 'n plek op daai vlug te kry. Ek het na 12:00 in Indianapolis aangekom. Geen shuttle wat nog loop nie en moes noodgedwonge 'n taxi haal vir die meer as 'n uur se rit na Wes Lafayette. Ek het 2:00 die oggend by my kamer uitgekom en $150 armer. Eina, dit was seer en ek moes verneem dat ek dit ongelukkig nie kan terugeis nie.






More vertrek ek en Benjamin Chicago toe vir die res van die Paasnaweek per Amtrak (trein).

Friday, April 15, 2011

Washington


Uiteindelik is ek in die 'Capitol' (hoofstad klink so afgewater in hierdie geval) van die VSA. Ek moet myself al kort kort knyp om net seker te maak dit is waar. Sover ek kyk, lyk alles so bekend, soos wat 'n mens dit al van TV en flieks leer ken het. Niks kom egter by die ware Jakob nie.

















Ons het gistermiddag vroeg klaargemaak met die patentseminaar. Ek en Charlotte het die metro gehaal na Washington en die res van die middag en aand daar deurgebring.




Na 'n dag en 'n half hier het ek dus al die volgende gesien: 'n gedeelte van die National gallery of Art, die Library of Congress, die Capitol building, die Botaniese tuin en 'n stukkie van die Natural history museum.




Van al die skilderye wat ek gistermiddag in die in die National Gallery of Art gesien het, was hierdie een my gunsteling. Dit is Sir Peter Paul Rubens se Daniel in the Lion's Den. Ek kon die beligting ongelukkig nie regkry nie en die sentrale leeu is skoon uitgeflash. Behalwe vir al die kunsgallerye, groei die kunswerke in die parke ook wild en welig. Hier staan ek by 'n reuse uitveer. Vanmiddag laat het ek die Hirshhorn museum's sculpture garden besoek. Hierdie twee werke was my gunstelinge. Hierdie een het my nogal sterk herrinner aan die werke van Salvador Dali. Die beeld is in los dele uitgebeeld. Van alles wat ek vandag gedoen het, was my besoek aan die Library of Congress sekerlik die hoogtepunt. Die interieur herrinner sterk aan die mooiste operahuise in Europa.


Hierdie is 'n blik op die reading room.













Hier is Jerry Mansfield, die bibliotekaris wat so vriendelik was om ons die binnewerke van die Library of Congress te wys, waar die publiek nie normaalweg kom nie. Ek wil definitief nog teruggaan om die gewone toer ook te doen. Van hierdie biblioteek het ek lank nog nie genoeg gesien nie. Jerry was so gaaf om ons na een van die 'Congress' se kafeterias te neem vir middagete. Dit was nou omtrent vir jou 'VIP' behandeling.











Na middagete het ons 'n toer van die 'Capitol building' gedoen wat amper so indrukwekkend soos die Library of Congress was. Hier is die Freedom standbeeld.
















Hierdie groep jongmense staan daagliks voor die hooggeregshof met rooi plakkers oor hulle monde geplak. Hierdie is 'n stille betoging teen aborsies as versinnebeelding van die ongebore babas wat nie vir hulleself kan praat nie.









Die 'cherry blossoms' het ek nou nog nie eintlik gesien nie, maar oral is daar die mooiste kleure tulpe saam met 'n verskeidenheid van ander blomme geplant.













Monday, April 11, 2011

Patentseminaar in Alexandria, Virginia

Hierdie week is ek in Alexandria, Virginia. Dit is omtrent so ver van Washington, DC soos Pretoria van Johannesburg. Ek het egter by Dulles lughawe geland wat net mooi aan die verkeerde kant van Washington was. Ek moes dus 'n shuttle haal wat my dwarsoor die stad sou neem tot by Washington lughawe waarvandaan ek (met Charlotte se hulp) twee treine gehaal het tot in Alexandria. Daarvandaan het ons gestap hotel toe. Ek reis gelukkig deesdae slegs met handbagasie en vind die stappery nie sleg nie. Die laptop is die swaarste om saam te dra. Vanoggend het ons begin met die patentopleiding in die US patent office. Hierbo is 'n foto van die gebou, van agter geneem. Die voorkant lyk nie veel anders nie, maar het 'n baie besige straat voor wat ek sal moet kruis om 'n foto van die hele gebou te neem en die kruising is ver. Hier langsaan is die voorkant van die konferensiesaal waar ons vandag deurgebring het. Daar is 73 afgevaardigdes en in meeste gevalle is daar slegs een afgevaardigde per instelling. Heelwat van die mense is ook van openbare biblioteke. Hierdie is voorwaar 'n interessante en vrolike groep mense en dit lyk asof almal mekaar ken. Hulle was so bly om mekaar te sien. Vanmiddag na die dag se seminaar, was daar 'n skemeronthaal wat ook deur al die grootkoppe van die US patent office bygewoon is. Nadat almal lekker geeet, gedrink en gekuier het, het hierdie twee medekongresgangers hulle instrumente uitgehaal en ons op heerlike musiek vermaak. Tog te lekker. Sulke Ierse soort van musiek. Hulle het belowe dat ons dit Woensdagaand sal voortsit. Hierdie is nou 'tulips in Alexandria' en is dit nie pragtig nie. Dit is agter die USPTO geneem. Die volgende foto het ek op pad terug hotel toe geneem. Vandag was 'n heerlike sonskyndag (30 C) en ek het nou nog steeds (10 uur in die aand) slegs 'n moulose truitjie aan. Nadat ek my pakaas by die hotel gaan neersit het, het ek deur die historiese ou Alexandria stad gestap tot by die waterfront. In teenstelling met Philadelphia en New York het ek hier geen bedelaars gesien nie. Hier is egter 'n hele klompie straatmusikante. Op een hoek het 'n violis gestaan wat musiek uit Phantom gespeel het. Dit was so mooi. Ek het 'n ent verder nog 'n vioolspeler teegekom en dan was daar ook nog die saksofoonspeler en by die waterfront self 'n man wat glase gevul met water gespeel het. Hy was regtig goed. Soos wat 'n mens nader aan die waterfront kom, is dit natuurlik baie bedrywig en was daar restaurante te kies en te keur. Ek kon nie help om aan Pretoria se La Madeleine te dink toe ek hierdie restaurant teekom nie. Dit was nogal 'n lywige stap en teen die tyd wat ek by die waterfront aangekom het, was dit nagdonker. Toe haal ek maar 'n bus terug hotel toe.

Saturday, April 9, 2011

Terug in Lafayette vir die naweek

Sjoe, dit het behoorlik gevoel of ek terug by die huis is toe ek gisteraand in my hotelkamer in die Union instap. Dis lekker om iets bekends te he om na terug te keer. Het heerlik geslaap in my nou reeds bekende bed. Vanoggend moes ek twee weke se wasgoed was en droogkry. Toe gou 'village' toe om 'n haarkapper te gaan soek, want nou kan dit nie meer nie. Ek het een gekry wat my nie die wereld se geld gevra het om my weer na 'n mens te laat lyk nie. Ek was behoorlik in my skik toe ek daar uitstap. Met die wat ek nie meer 'n handsak het nie, gebruik ek nou sommer die sak wat hulle vir ons by die Mortensen Institute gegee het. Dis heel netjies en lekker sterk. Ongelukkig werk dit nie goed vir my nie. Dit is 'n oop sak en ek is heeltyd bang ek sal goed verloor. So, 'n goeie verskoning om weer te gaan shop vanmiddag nadat ek met Benjamin geskype het. 'n Paar weke gelede was ek by hulle Borders, wat toemaak hier in Lafayette. Daar was toe soveel boeke, dat ek nie kon kies nie. Vandag was die keuse veel kleiner en toe koop ek 'n paar. Ek was toe ook gelukkig genoeg om vir my 'n handsak by Sears te kry. Als en als was dit 'n goeie Saterdag, maar nou moet ek weer begin inpak om more Washington toe te vertrek vir my weeklange opleiding by die US Patent office. Dit het amper nie gebeur nie, as gevolg van die amperse shut down van die US government.

New York vervolg

Vervoer: Daar is vele maniere wat 'n mens in NY oor die weg kan kom. Die maklikste om 'n plek te kry, is waarskynlik die 'yellow cab'. Persoonlik het ek meestal die voete gebruik en dit ook die meeste geniet, want dan sien 'n mens die meeste. Ongelukkig was die weer oor die algemeen maar goor. Dit is nou bewolk en reenerig, maar daai dik grys baadjie van my en die swart stewels is regte staatmakers en ek kla niks. Hierdie fietstaxis staan bekend as pedicabs en is ook baie volop. Daar is dikwels 3 passesiers in hierdie taxis en ek dink die drywers kry hulle kwota oefening in. Dan is daar natuurlik ook die 'subway', wat ek nou nie afgeneem het nie, maar waarmee ons wel gery het en ook die Amtrak waarmee ons vanaf Philadelphia na NY gery het. Die Amtrak is regtig 'n baie gerieflike trein waarop jy ten minste 'n sitplek kan bespreek en seker maak dat jy nie hoef te staan nie. Ek het die rit baie geniet. Die sitplekke is aansienlik beter as 'n vliegtuig s'n. Dan is daar natuurlik ook hierdie perdekoetse waarmee jy die stad kan verken. Met soveel vervoermiddels in 'n alreeds oorvol stad, is hierdie padteken seker te verstane. Ons het Dinsdagoggend 'n bus vir die hele groep 'interns' en mentors gereel met ons eie toergids om die stad te gaan sien. Hierdie toer het ook 'n bootrit na die Statute of Liberty ingesluit, want 'n mens kan nie eintlik die dame vanaf Manhatten eiland af sien nie. Sy staan op haar eie eiland. Hier staan ek en Lucia met die ware Jakob in die agtergrond. NY vanaf die boot. Hier is die bekende Brooklyn bridge. Ek was ongelukkig te naby om die volle brug te kon afneem, so hierdie is maar 'n klein stukkie.

So lyk dit nou waar die 'Twin towers' tien jaar gelede gestaan het voor 9/11. Na 10 jaar lyk dit nog steeds nie asof hulle die plek behoorlik opgeruim het nie. Hulle is besig om 'n 'memorial' daar te bou, maar dit gaan maar stadig. Daardie dag is 7 geboue blykbaar verwoes en vele ander sonder vensters gelaat. Dit is nou nog 'n baie hartseer gesig en 'n mens voel skoon aardig as jy daarna kyk.



















Die Dakota building is die oudste gebou in NY en reg langs Central Park gelee. Dit is in hierdie gebou op die sewende vloer wat John Lennon geskiet is. Yoko Ono bly vandag nog daar in die ganse sewende vloer.












Hierdie Imagine mosaiek is reg voor die Dakota woning in Central park ter herdenking aan John Lennon. Yoko wou nie 'n standbeeld he wat haar daagliks aan hom sou herrinner as sy daar deurstap nie.
















Hierdie man het in Central Park sit en drom speel. Ek was oortuig dat dit 'n formele drommestel met simbale en 'n verskeidenheid dromme was wat ek hoor, totdat ek hierdie tuisgemaakte stel aanskou het. Die ou was regtig goed.










Dinsdagaand het ek en Charlotte vir ons kaartjies gekry om Memphis in die Shubert teater te gaan kyk. Ek het reeds Mama Mia, Phantom, Chicago en Lion King gesien en was lus vir iets nuuts. Memphis was 'n uitstekende keuse. Dit het gehandel oor die black Americans se musiek wat eintlik 'n voorloper vir die rock en roll was. Ons het in die 3de ry van vooraf gesit. Die show was die ene beweging en wonderlike musiek en dans van begin tot end. Dit was werklik 'n belewenis en sterk aan te bevele.




Al die teaters is min of meer in die omgewing van Times Square gelee. Ek het hier eenvoudig op een plek gestaan en probeer om foto's na al die kante af te neem om 'n idee te gee van die bedrywigheid op time square saans. Die vibe is eenvoudig fantasties.









Woensdagoggend het ons Columbia University libraries besoek en die middag weer afgehad om bietjie rond te loop. Ek, Marguerite en Biziwe het die underground probeer uitfigure om terug te kom by die hawe waarvandaan ons die vorige dag die boot gehaal het. Daar was 'n mall wat nie te duur gelyk het nie en Marguerite het dringend nuwe skoene nodig. Hare het gegroet. Ons het 'n hele klompie wedervaringe gehad voordat ons uiteindelik daar aangekom het. Dit was toe al amper 5 uur in die middag en ons het nog nie geeet nie. Terwyl ons sit en eet, was daar 'n vreeslike bedrywigheid van 6 helikopters en polisie op die hawe, en jou waarlikwaar, toe is dit die president van die VSA wat gou 'n besoek kom afle. Praat van 'n gevolg! Daar het ten minste 15 - 20 mense uit elk van die helikopters geklim. En dan was daar nog die 7 de helikopter, wat ek aangeneem het syne was.

Teen Woensdagaand het ook my enigste denim en handsak gegroet. So, Donderdagoggend het ek en Biziwe eers die Openbare biblioteek hier langsaan gaan besoek. Wat 'n ongelooflike gebou. Dit is oop vir enige besoeker om te gebruik. Die dakke van die verskillende vertrekke lyk asof Michaelangelo dit geskilder het - absoluut pragtig.

Daarna het ons vir my gaan soek vir 'n nuwe denim en handsak wat my nie 'n fortuin sou kos nie. Dit is 'n tall order in NY. Ons het op hierdie distrik afgekom waar daar die allermooiste klere was en glad nie te duur nie, maar jy mag glad nie pas nie; jy koop eenvoudig jou nommer van die

rak af. Dit blyk toe die area te wees waar handelaars hulle ware aankoop. Dit het nie vir my gewerk nie, want ek weet nie wat my nommer in Amerikaans is nie. Hulle het nommers soos 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8. Op die ou end het ek toe darem reggekom met 'n denim by Macy's teen 'n prys wat ek ook in SA sou betaal. Nou is ek reg vir die res van my toer.


Hier stap ons in die avenue of fashion fame.




Die geel affodille was nogal oral te siene in NY en skep 'n baie mooi en vrolike prentjie. Hierdie is by die Rockefeller Center geneem. Als en als het ek New York verskriklik baie geniet, maar ek dink 5 dae daar was genoeg.