Monday, April 11, 2011

Patentseminaar in Alexandria, Virginia

Hierdie week is ek in Alexandria, Virginia. Dit is omtrent so ver van Washington, DC soos Pretoria van Johannesburg. Ek het egter by Dulles lughawe geland wat net mooi aan die verkeerde kant van Washington was. Ek moes dus 'n shuttle haal wat my dwarsoor die stad sou neem tot by Washington lughawe waarvandaan ek (met Charlotte se hulp) twee treine gehaal het tot in Alexandria. Daarvandaan het ons gestap hotel toe. Ek reis gelukkig deesdae slegs met handbagasie en vind die stappery nie sleg nie. Die laptop is die swaarste om saam te dra. Vanoggend het ons begin met die patentopleiding in die US patent office. Hierbo is 'n foto van die gebou, van agter geneem. Die voorkant lyk nie veel anders nie, maar het 'n baie besige straat voor wat ek sal moet kruis om 'n foto van die hele gebou te neem en die kruising is ver. Hier langsaan is die voorkant van die konferensiesaal waar ons vandag deurgebring het. Daar is 73 afgevaardigdes en in meeste gevalle is daar slegs een afgevaardigde per instelling. Heelwat van die mense is ook van openbare biblioteke. Hierdie is voorwaar 'n interessante en vrolike groep mense en dit lyk asof almal mekaar ken. Hulle was so bly om mekaar te sien. Vanmiddag na die dag se seminaar, was daar 'n skemeronthaal wat ook deur al die grootkoppe van die US patent office bygewoon is. Nadat almal lekker geeet, gedrink en gekuier het, het hierdie twee medekongresgangers hulle instrumente uitgehaal en ons op heerlike musiek vermaak. Tog te lekker. Sulke Ierse soort van musiek. Hulle het belowe dat ons dit Woensdagaand sal voortsit. Hierdie is nou 'tulips in Alexandria' en is dit nie pragtig nie. Dit is agter die USPTO geneem. Die volgende foto het ek op pad terug hotel toe geneem. Vandag was 'n heerlike sonskyndag (30 C) en ek het nou nog steeds (10 uur in die aand) slegs 'n moulose truitjie aan. Nadat ek my pakaas by die hotel gaan neersit het, het ek deur die historiese ou Alexandria stad gestap tot by die waterfront. In teenstelling met Philadelphia en New York het ek hier geen bedelaars gesien nie. Hier is egter 'n hele klompie straatmusikante. Op een hoek het 'n violis gestaan wat musiek uit Phantom gespeel het. Dit was so mooi. Ek het 'n ent verder nog 'n vioolspeler teegekom en dan was daar ook nog die saksofoonspeler en by die waterfront self 'n man wat glase gevul met water gespeel het. Hy was regtig goed. Soos wat 'n mens nader aan die waterfront kom, is dit natuurlik baie bedrywig en was daar restaurante te kies en te keur. Ek kon nie help om aan Pretoria se La Madeleine te dink toe ek hierdie restaurant teekom nie. Dit was nogal 'n lywige stap en teen die tyd wat ek by die waterfront aangekom het, was dit nagdonker. Toe haal ek maar 'n bus terug hotel toe.

1 Comments:

At April 12, 2011 at 1:28 AM , Blogger Avenal said...

Enjoy the seminar and Washington! I found the level of support offered by libraries to inventors and designers in the US quite amazing.

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home