
Uiteindelik is ek in die 'Capitol' (hoofstad klink so afgewater in hierdie geval) van die VSA. Ek moet myself al kort kort knyp om net seker te maak dit is waar. Sover ek kyk, lyk alles so bekend, soos wat 'n mens dit al van TV en flieks leer ken het. Niks kom egter by die ware Jakob nie.
Ons het gistermiddag vroeg klaargemaak met die patentseminaar. Ek en Charlotte het die metro gehaal na Washington en die res van die middag en aand daar deurgebring.
Na 'n dag en 'n half hier het ek dus al die volgende gesien: 'n gedeelte van die National gallery of Art, die Library of Congress, die Capitol building, die Botaniese tuin en 'n stukkie van die Natural history museum.

Van al die skilderye wat ek gistermiddag in die in die National Gallery of Art gesien het, was hierdie een my gunsteling. Dit is Sir Peter Paul Rubens se Daniel in the Lion's Den. Ek kon die beligting ongelukkig nie regkry nie en die sentrale leeu is skoon uitgeflash.

Behalwe vir al die kunsgallerye, groei die kunswerke in die parke ook wild en welig. Hier staan ek by 'n reuse uitveer.

Vanmiddag laat het ek die Hirshhorn museum's sculpture garden besoek. Hierdie twee werke was my gunstelinge.
Hierdie een het my nogal sterk herrinner aan die werke van Salvador Dali. Die beeld is in los dele uitgebeeld.

Van alles wat ek vandag gedoen het, was my besoek aan die Library of Congress sekerlik die hoogtepunt. Die interieur herrinner sterk aan die mooiste operahuise in Europa.

Hierdie is 'n blik op die reading room.

Hier is Jerry Mansfield, die bibliotekaris wat so vriendelik was om ons die binnewerke van die Library of Congress te wys, waar die publiek nie normaalweg kom nie. Ek wil definitief nog teruggaan om die gewone toer ook te doen. Van hierdie biblioteek het ek lank nog nie genoeg gesien nie. Jerry was so gaaf om ons na een van die 'Congress' se kafeterias te neem vir middagete. Dit was nou omtrent vir jou 'VIP' behandeling.

Na middagete het ons 'n toer van die 'Capitol building' gedoen wat amper so indrukwekkend soos die Library of Congress was. Hier is die Freedom standbeeld.

Hierdie groep jongmense staan daagliks voor die hooggeregshof met rooi plakkers oor hulle monde geplak. Hierdie is 'n stille betoging teen aborsies as versinnebeelding van die ongebore babas wat nie vir hulleself kan praat nie.

Die 'cherry blossoms' het ek nou nog nie eintlik gesien nie, maar oral is daar die mooiste kleure tulpe saam met 'n verskeidenheid van ander blomme geplant.
1 Comments:
Dit lyk na 'n pragtige stad en 'n ongelooflike biblioteek! Jy is inderdaad bevoorreg om so 'n persoonlike toer te kon beleef.
Post a Comment
Subscribe to Post Comments [Atom]
<< Home