Saturday, February 19, 2011

Ons kuier by die Amish



Vandag was nou baie interessant. Ons is Arthur toe. Dit is 'n klein plattelandse dorp wat 'n groot gemeenskap Amish mense huisves. Die Amish boer oorwegend, doen pragtige houtwerk en 'quilting'. Daarvan het ons heelwat gesien. Hulle gee nie om dat 'n mens hul huise afneem nie, maar vra dat ons nie die mense moet afneem nie. In die proses was ons nou heeltemal geinhibeer en het ek nie veel foto's nie. Hulle is baie vriendelik en waai altyd as hulle in hulle perdaangedrewe 'buggies' by 'n mens verbyry.

Ons het die voorreg gehad om in twee huise te kon ingaan. Die vrouens was baie bereid om vir ons van hul leefwyse te vertel en hul huise vir ons te wys. Kinders kry op ongeveer 16 die geleentheid om 'n bietjie te gaan explore en dan self te besluit of hulle by die geloof wil aansluit, wat beteken dat hulle kies om 'n eenvoudige lewe sonder elektrisiteit en motoriese motors te leef. Op hulle plase is dus werksperde, perde wat die buggies trek, perde vir teeldoeleindes en miniatuurperde vir die kinders om mee te speel - omtrent so groot soos 'n groot hond kleiner as shetland ponies. Ons was in Joseph en July Yoder se huis. Hulle het 6 kinders, wat wissel van 6 tot 14. Die kinders gaan skool vir 8 jaar (graad 8) en gaan leer dan 'n ambag.

Die werk in en om die huis is baie en die kinders moet van kleins af hulle kant bring. Die kombuis, eetkamer en leefvertrek is oopplan. Die eetkamer in die middel is basie waar alles gebeur. Daar is 'n stoof, wat in die winter hitte moet verskaf. Daar word uit die aard van die saak geeet. Daar is gemakstoele waar hulle kuier. Die kinders se speletjies is daar. Hulle lees baie. Die gesin waar ons gekuier het, is duidelik ook baie lief vir legkaartbou en die mure is vol klaargeboude geplakte legkaarte. In die winter word die wasgoed sommer ook in daai vertrek opgehang om droog te word.

Hulle maak beurte om van huis tot huis kerk te hou. Hulle is in 22 distrikte opgedeel. Elke 2de
Sondag word daar by een van die huise in jou distrik kerk gehou. Dan word al die meubels uit die leefvertrek, eetkamer en kombuis uitgedra en pas hulle tot 200 mense daar in vir die kerkdiens. Dit hou enigiets van 2 1/2 - 3 ure aan. Hulle sing sonder begeleiding, in hoog Duits en lees ook die Bybel in hoog Duits. Die preek self is 'n mengsel van Duits en Engels, want hulle praat eintlik almal Engels en die kinders leer Duits in hul Sondagskool.

Middagete het ons by 'n ander Amish huis gaan eet en dit was eenvoudig 'n fees en die kos was heerlike boerekos: hoender, frikkedelle, mash, sweetcorn, ertjie slaai en die heerlikste tuisgebakte wit brood en 'apple butter'. Daar was ystee vir 'n drankie, maar dit is gewone tee wat afgekoel is en glad nie gegeur soos wat ons gewoond is nie. Nogtans lekker verfrissend. Vir nagereg was daar 'n peanut butter pie en 'n perske pie. Die peanut butter pie het soos 'n suurlemoenmeringue gelyk en was heerlik. Het nie nog plek gehad om van die ander een ook te proe nie. Ek het vir my 'n Amish kookboek by 'n plaaslike winkel gekoop.

Hierdie is twee van die vyf buggies wat in die parkeerarea oorkant die openbare biblioteek, wat ons besoek het, gestaan het.

0 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home