Sunday, January 30, 2011

My eerste Disaster

Ek was gister so moedeloos. Ek het verlede Dinsdagaand die heel aand spandeer om die presentation wat ek oorsee moet gaan aanbied, aanmekaar te sit. Ek het dit op my flashdisk gesave en gedink dat ek dit ook op my laptop gesave het, maar gister kon ek nie een in die hande kry nie. Ek het Donderdag 'n aanbieding by Waterbenutting gedoen en sedertdien het ek probleme met my flashdisk en het duidelik inligting daarop verloor. Marguerite (my kollega wat ook gekies is vir die program) het Vrydag vir my haar aanbieding gebring en sy het regtig goeie werk gedoen. Siende dat ek nou in elk geval weer van vooraf moet begin, sal ek maar op hare voortbou en die gate invul.

Gister het ek hoofsaaklik spandeer aan die bymekaarsit en orden van goed wat moet saamgaan. Ek het die program wat ons by die Mortensensentrum gaan volg, gekry en gelees en is baie opgewonde daaroor. Het net nog 'n klompie leeswerk om te doen voor die tyd.

Ek kyk nou eers na die Australiese ope se mans eindstryd. Die eerste stel was so goed, maar nou lyk dit asof Djokovich vir Murray gaan ore aansit. Sal vanmiddag en vanaand weer aan die presentation aandag gee.

Sunday, January 23, 2011

Ek maak goed bymekaar

Ek vind dat ek op die oomblik onophoudelik goed bymekaar maak om saam te neem. Ek neem foto's van my huis, my tuintjie, my huismense. Verlede Donderdagaand het ek vir ons omgeegroepie gese ek is besig om my tenkie vol te maak. Ek was al verskeie kere oorsee, maar nog nooit vir so 'n lang tydperk nie en ten minste vir die helfte van die tyd gaan ek heeltemal alleen is. Dit is nogal vir my 'n skrikwekkende gedagte. Ek floreer op mense, maar nie goed op alleenheid nie.

Ek besef dat dit 'n ideale geleentheid is om my verhouding met die Hemelse Vader te verdiep en sien uit na ons alleentyd. Maar, ek is ook besig om teksgedeeltes uit die Bybel bymekaar te maak wat my sal bemoedig wanneer ek alleen en verlate voel. Vanoggend het Christo baie mooi uit Fil. 1 gepreek oor God se absoluut oorvloedige genade vir elkeen van ons. Dit lyk vir my na 'n gedeelte wat ek definitief sal saamvat. Kan ek asb. vir al my Christenvriende vra om by te dra tot hierdie versameling teksverse van my?

Verder het ek gehoor dat ek 'n aanbieding sal moet doen by Purdue Universiteit oor die bestaande onderwysstelsel in SA met die klem op Hoer onderwys en Universiteit Pretoria natuurlik. Marie het sommer uit haar eie vir my 'n soektog gedoen oor die wette wat betrekking het, wat ek baie waardeer. Buyisiwe Nkonyane van Bemarkingsteun het nogal tyd spandeer om vir my 'n CD te sny van pragtige kampus en biblioteekfoto's. Una het my ook na al die foto's wat sy op Fotki opgelaai het, verwys. Gesprekke met Monica, Hilda, Elna en Ujala het ook al baie bygedra om oor die regte goed te begin dink.

Benjamin het my 'n paar wenke gegee oor onderwerpe waarop ek my 'n bietjie moet ingrawe. Ek werk nog aan hierdie een ook. By tye voel dit my ek ly nou aan totale 'information overload'.

Wednesday, January 19, 2011

My reisplan brei uit

My reisplan het net gister weer verander en nog meer opwindend geword. My mentor by Purdue Universiteit het my saamgenooi na 'n weeklange patenteseminar by die US patent office in Alexandria, Virginia. Sy stel voor dat ons dan sommer die twee naweke weerskante van hierdie week in Washington deurbring en museums en biblioteke soos die Library of Congress besoek. Ek kan nie glo dat ek so gelukkig is nie. Miskien kan ons 'n konsert of twee ook inwerk.

My volledige reisplan lyk nou kortliks as volg: 2 weke in Urbana-Champaigne, Illinois; dan 3 weke by Purdue Universiteit, West-Lafayette, Indiana; dan woon ons die Association of College and Research Libraries (ACRL) konferensie in Philadelphia by - 1 week; 1 week in New York vir vergaderings, biblioteekbesoeke en nogal vrye tyd ook; terug Purdue toe en vertrek dan dadelik Washington toe vir die patentseminar; laaste 2 weke weer by Purdue en dan sluit Benjamin by my aan.

Ons wil kyk of ons nie Paassondag die diens by Willow Creek in Chicago kan bywoon nie. Verder beplan ons om na die Grand Canyon en Disney world te gaan en daarvandaan met 'n motor teen die ooskus op te toer tot by Washington, waarvandaan ons weer die 14 Mei terugkeer SA toe.

Sunday, January 16, 2011

'n Wonderlike vooruitsig

Ek is aangewys as een van 9 navorsingsbibliotekarisse in SA wat vir 10 weke Amerika toe gaan om meer te leer van die werking van navorsingsbiblioteke in die VSA. Hierdie sal 'n studietoer wees en ek is so opgewonde oor die vooruitsig, dat jy skaars met my kan huis hou. Hierdie hele ekspedisie word deur die Carnegie Corporation of New York befonds.

Ons vertrek op 10 Februarie 2011. My vliegtuigkaartjies is gekoop. Vrydag was ek vir my visumonderhoud by die Amerikaanse ambesade in Johannesburg en dit is sonder enige probleme toegeken.

Hierdie is 'exciting times' en heelwat moet gedoen word voordat ek kan vertrek. Ek dink onophoudelik oor wat 'n mens vir 3 maande in een tas inpak. Benjamin sluit na die 10 weke by my aan en dan gaan ons vir 2 weke toer.