Monday, February 28, 2011

Ek verloor my hart in Chicago















Vier dae in Chicago en wat 'n ervaring. Dis 'n heerlike lewendige stad met baie wat gebeur en aanhou gebeur en so baie om te kyk en te beleef. Donderdag het ons eie bus ons voor ons deur kom oplaai en twee en 'n half uur later in Chicago voor die American Library Association se kantore afgelaai. Die oggend het ons in die geselskap van die Association of College and Research Libraries (ACRL) deurgebring en was beindruk met wat hulle organisasies alles vir biblioteek en inligtingkunde en die beroep in die algemeen in Amerika doen. Hulle stel bv standaarde op en is die mense wat voorloop met nuwe ontwikkelings.

Die middag het ons Loyola universiteit se ongelooflike Research Commons teen die Michigan meer besoek. Die tegnologie van daardie biblioteek het my geweldig beindruk. Vrydag het ons 'n uurlange treinrit na Northwestern Universiteit geneem en die dag daar deurgebring. Al hierdie mense het deeglike programme saamgestel waardeur hulle ons ingelig het oor hul werksaamhede. Hierdie besoeke is regtig die hoogtepunte van ons tyd hier by die Mortensen sentrum, want hulle gaan wys regtig vir ons die beste van die bestes.

Ten spyte daarvan dat ons gedaan was teen die tyd wat dit aand raak, het ons die beste gemaak van ons tyd in Chicago. Dit is immers die stad van jazz en blues. Donderdagaand, nadat ons ingeboek het in die Club Courters Hotel, wat heerlik sentraal gelee was, het ons eerstens die Chicago Art Institute gaan besoek. Ek het 'n audio toer gedoen en die hoogtepunte terdee geniet, want dit was omtrent wat ek in 2 ure kon inpas.

Daarna is ons na Andy's Jazz bar, waar ons na 'n lewendige jazz band geluister het en heerlik geeet het. Ek het gebraaide salm gehad en kan dit sterk aanbeveel. Ek het ook agtergekom dat jazz musiek nie regtig my scene is nie - bietjie vervelig na my smaak.

Vrydagaand is ons toe na die House of blues toe. Nou hierdie het heelwat meer in my smaak geval. Die restaurant is versier met die interessantste kunswerke en daar was sommer net 'n heerlike ontspanne atmosfeer. Ons is aangeraai om van die 'southern cuisine' te probeer, maar ek het liewer hierdie catfish bestel, wat ook baie lekker was, al was dit nou in 'n degie gebraai. Dit vis self was lig en vlokkerig.

Saterdag (ons afdag in Chicago) het dit die heeldag gesneeu en ons kan nou almal se dat ons werklik weet wat koue is. Nogtans het ons die koue aangedurf en 'n paar van ons het die Hop on hop off trolley geneem en die stad daarmee gaan verken. By die Sears Tower (nou die Willis tower) - die hoogste wolkekrabber in Chicago, moes ons hoor dat die sigbaarheid bo van die toring af 0 - 15% was. Drie van ons het besluit om 'n ekstra dag agter te bly en het besluit om maar te wag vir Sondag voordat ons opgaan met die toring. Die res van die dag het ek op en af die bus geklim, maar dit het vir my ek het meer gewag vir die bus as wat ek daarop was en in die proses byna verkluim.














So het ek die oggend op 'n stadium afgeklim om 'n betoging te aanskou en te probeer agterkom waaroor dit nou eintlik gaan. Tydens middagete het ek 'n tafel met 'n ondersteuner van die betoging gedeel en sy het verduidelik dat dit primer gaan oor 'n wet wat die regering 2 uur in die oggend deurgestem het en wat nou die laer werkersklas benadeel. Nadat die betoging gereel is, het almal wat een of ander probleem met die regering of enige ander saak het, hulle sommer ook by die betoging aangelas en in die omgewing waar ek afgeklim het, was daar twee faksies wat vir en teen aborsie betoog het. Die polisie was tussenin en het die vrede probeer bewaar. 'n Interessante affere en dit ten midde van die koue en sneeu.


Die middag het ek meeste van my tyd in die Field Museum deurgebring. Dit is verskriklik groot en dek historiese en natuurlike geskiedenis van die Amerikas. Ek het begin met 'n 3-D Imax vertoning oor Sue, die dinausaurus Rex, wat in Amerika opgegrawe en gerekonstrueer is. Hulle het 'n reuse afdeling oor dinausaurusse (weet nou nie lekker van die spelling nie). Ook van perde , die geskiedenis van die Amerikas, natuurlike ontwikkeling daarvan, vuurspuwende berge, ens. ens. Saterdagaand het ons besluit ons vat nie weer die koue aan nie en het sommer in die hotel se eie restaurant deep dish pizza geeet. Buitendien is dit die enigste restaurant waar Oprah Winfrey haar pizzas vandaan bestel. Dit was regtig die moeite werd.

Hierdie is natuurlik ook waar Barack Obama senator was voordat hy president geword het. By die Northwestern University het hulle 'n hele versameling wat oor Obama gaan of met items wat sy gesig ophet. Daar is selfs 'n hele klomp items wat uit Suid-Afrika kom.


Sondagoggend kon ons ons oe nie glo nie. Die lug was blou en die son het geskyn en dit was net die mooiste dag denkbaar. Ons is dadelik na die Sears tower toe. Daar het ons eers na 'n video oor Chicago gekyk en toe besef waarom die argitektuur van Chicago so besonders is. Die ganse stad het in die 1800's afgebrand en moes van onder af opgebou word. Die beste argitekte en stadsbeplanners van oor die wereld het dit as 'n groot uitdaging beskou en Chicago as 'n geheel beplan en uitgele. Die opgaan met die hysbak was baie interessant. Hulle stop omtrent elke 34 vloere, maak die deure oop, en gaan dan weer aan vir nog 34 vloere, en so aan. 'n Mens se ore slaan vreeslik toe en dit gee 'n mens dan ten minste kans om te 'equalise'. Dit klink soos 'n duiker wat na die oppervlak kom, ne? Bo gekom, was die uitsig absoluut fantasties. Glo dit of nie, maar ek het selfs op daar glasvloere, wat uitstaan, met my hoogtevrees en al, uitgeklim, maar ek is seker julle kan die vrees in my oe op die foto sien.

Na hierdie ervaring wou ons baie graag die argitektuurtoer doen, maar toe ons daar kom, was die volgende toer eers van 1 uur tot 3 uur die middag. Ons moes reeds 3 uur 'n bus haal om by die stasie te kom om ons bus terug te haal Champaigne toe, so was bang dat ons dit nie sou maak nie en het dit toe maar gelos.



Toe gaan stap ek maar in die Millenium park en neem foto's in die groot boontjie. Daarna moes ek natuurlik die 'Magnificent mile' gaan stap om te sien wat die 'shops' als oplewer. Ek het reeds hier in Champaigne agtergekom dat Macy's 'n klerewinkel is wat met my praat. Dit is 'n kettingwinkel, soortgelyk aan Woolworths, net baie groter en die oorspronklike een is daar in Chicago. Die winkel beslaan 'n hele blok en bestaan uit 4 of 5 vloere. Hierdie een in Chicago se interieur en uitstallings het my nogal aan Harrod's in London laat dink. Dit is 'n belewenis. Ten spyte van die uitverkopings, het ek maar met die oe geshop. Ek het darem 'n heerlike middagete daar geeet; 'n mens moet mos eet. Ons lotjie het in ons tydjie in Chicago geleer van die Corner Bakery Cafe en dit goed ondersteun. Ek het ook hulle mengsel van Kaas popcorn en caramel popcorn geeet. Dit was vir my 'n baie vreemde kombinasie.

Ek sal definitief moet teruggaan Chicago toe, want ek moet nog daai argitektuurtoer gaan doen, ek wil nog by die Hancock toring opgaan en ook die Science museum gaan besoek en kyk of ek verder langs die Magnificent Mile kan vorder as net Macy's.

Dit was nie net ons wat koud gekry het nie; kyk hierdie hondjie se skoentjies, om van sy jassie nie eens te praat nie.

Labels:

Tuesday, February 22, 2011

Dit sneeu!!!!!!


Dit het vanoggend liggies begin sneeu en hier staan Lucia, ek en Roshini by die busstop en wag vir die bus. Vir die eerste keer is dit regtig koud en het ek twee truie en my dubbele baadjie aan. Dis die vreemdste gewaarwording as dit so in jou gesig sneeu en ek moes selfs my oe toeknyp as die sneeu vir my oe kom.

Die groep kyk nou almal na warmer 'under garments' vir die naweek in Chicago. Ons verwag nog sneeu en baie koue weer.

Monday, February 21, 2011

'n Braai in die VSA



Ons was gisteraand uitgenooi om aandete by Richard en Susan Schnuer by hul huis te geniet en was ons verbasing groot toe hulle vir ons 'n grill (braai) uitpak. Hulle het 'n soortgelyke gasbraaier as wat ons by die huis het en het vir ons hoender, varkworsies en salm gebraai. Dit en al die bykosse was absoluut heerlik. Die porselein kameelperdjie agter Susan het ons vir haar as geskenk saamgebring uit Suid-Afrika.

Saturday, February 19, 2011

Ons kuier by die Amish



Vandag was nou baie interessant. Ons is Arthur toe. Dit is 'n klein plattelandse dorp wat 'n groot gemeenskap Amish mense huisves. Die Amish boer oorwegend, doen pragtige houtwerk en 'quilting'. Daarvan het ons heelwat gesien. Hulle gee nie om dat 'n mens hul huise afneem nie, maar vra dat ons nie die mense moet afneem nie. In die proses was ons nou heeltemal geinhibeer en het ek nie veel foto's nie. Hulle is baie vriendelik en waai altyd as hulle in hulle perdaangedrewe 'buggies' by 'n mens verbyry.

Ons het die voorreg gehad om in twee huise te kon ingaan. Die vrouens was baie bereid om vir ons van hul leefwyse te vertel en hul huise vir ons te wys. Kinders kry op ongeveer 16 die geleentheid om 'n bietjie te gaan explore en dan self te besluit of hulle by die geloof wil aansluit, wat beteken dat hulle kies om 'n eenvoudige lewe sonder elektrisiteit en motoriese motors te leef. Op hulle plase is dus werksperde, perde wat die buggies trek, perde vir teeldoeleindes en miniatuurperde vir die kinders om mee te speel - omtrent so groot soos 'n groot hond kleiner as shetland ponies. Ons was in Joseph en July Yoder se huis. Hulle het 6 kinders, wat wissel van 6 tot 14. Die kinders gaan skool vir 8 jaar (graad 8) en gaan leer dan 'n ambag.

Die werk in en om die huis is baie en die kinders moet van kleins af hulle kant bring. Die kombuis, eetkamer en leefvertrek is oopplan. Die eetkamer in die middel is basie waar alles gebeur. Daar is 'n stoof, wat in die winter hitte moet verskaf. Daar word uit die aard van die saak geeet. Daar is gemakstoele waar hulle kuier. Die kinders se speletjies is daar. Hulle lees baie. Die gesin waar ons gekuier het, is duidelik ook baie lief vir legkaartbou en die mure is vol klaargeboude geplakte legkaarte. In die winter word die wasgoed sommer ook in daai vertrek opgehang om droog te word.

Hulle maak beurte om van huis tot huis kerk te hou. Hulle is in 22 distrikte opgedeel. Elke 2de
Sondag word daar by een van die huise in jou distrik kerk gehou. Dan word al die meubels uit die leefvertrek, eetkamer en kombuis uitgedra en pas hulle tot 200 mense daar in vir die kerkdiens. Dit hou enigiets van 2 1/2 - 3 ure aan. Hulle sing sonder begeleiding, in hoog Duits en lees ook die Bybel in hoog Duits. Die preek self is 'n mengsel van Duits en Engels, want hulle praat eintlik almal Engels en die kinders leer Duits in hul Sondagskool.

Middagete het ons by 'n ander Amish huis gaan eet en dit was eenvoudig 'n fees en die kos was heerlike boerekos: hoender, frikkedelle, mash, sweetcorn, ertjie slaai en die heerlikste tuisgebakte wit brood en 'apple butter'. Daar was ystee vir 'n drankie, maar dit is gewone tee wat afgekoel is en glad nie gegeur soos wat ons gewoond is nie. Nogtans lekker verfrissend. Vir nagereg was daar 'n peanut butter pie en 'n perske pie. Die peanut butter pie het soos 'n suurlemoenmeringue gelyk en was heerlik. Het nie nog plek gehad om van die ander een ook te proe nie. Ek het vir my 'n Amish kookboek by 'n plaaslike winkel gekoop.

Hierdie is twee van die vyf buggies wat in die parkeerarea oorkant die openbare biblioteek, wat ons besoek het, gestaan het.

Friday, February 18, 2011

Look at me now!















Was ons verbasing nou groot toe ons vanoggend 5:45 by ons voordeur opgelaai word deur hierdie 'stretch limosine'. Ons het vandag Purdue Universiteit, Indiana, gaan besoek. Dis so 'n uur en 'n half se ry met hierdie limo. Wat 'n treat en slaap daai banke vir jou lekker. Dit was nog nagdonker toe ons hier weg is.

Die dag in West-Lafayette by Purdue Universiteit was 'n absolute eye opener. Hulle het pas hul Management and Economics biblioteek oorgedoen en dis eenvoudig fantasties. Hulle het goed daar waarvan ek nog nie eens gehoor het nie en ons het dit sien werk. Hieronder praat hul Dean of Libraries, Jim Mullins, met ons. Die dame wat my mentor gaan wees as ek soontoe gaan oor 'n bietjie meer as 'n week, is die een met die rooierige toppie in die agtergrond, Charlotte. Almal van hulle het my baie welkom laat voel en spesiale moeite gedoen om ook vir my die ingenieurs en chemie biblioteke te gaan wys, asook die kantore waar ek gaan sit. Die dag het my en my kollegas geweldig beindruk en almal beny my my plasing by hierdie biblioteek. Ek sien regtig uit om daar te gaan werk. Dis ook 'n baie mooi kampus met mooi geboue.

Thursday, February 17, 2011

Ek het nou 'n drukkie nodig


Ek het vandag besef dat na 'n week weg van die huis en my vriende, ek nou ernstig 'n behoefte het aan 'n drukkie. Ek vind myself dat ek lus het om mense te druk, maar almal lyk so gereserveerd, so ek weerhou my maar daarvan. Julle ouens wat my ken, sal weet dat dit nie in my aard is om rond te gaan en mense te druk nie, so die gemis aan aanraking is groot.

Vandag het ons in die geselskap van Illinois se biblioteekkundestudente deurgebring. Biblioteekkunde kan slegs op nagraadse vlak in die VSA studeer word. Dit word glad nie as 'n voorgraadse kursus aangebied nie. Die eerste deel van die oggend het 'n klomp van hulle aanbiedings gedoen oor die jongste tendense op verskillende gebiede, soos in argiewe, 'data curation' - baie interessant vir my, e-government, public libraries, corporate libraries, e-learning m.b.v. Moodle, ens. Hierso gaan die mense nie in vir teetyd of koffietyd nie. Ons lot suffer nogal. Ek het nie gedink ek sou so dors word nie. Ek koop nou maar soggens vir my 'n bottel water voordat ons begin.

Die tweede helfte van die oggend het ons saam met Afrikastudie studente spandeer. As deel van hul kursus moet hulle o.a. 'n Afrikataal aanleer. Twee van hulle het Zulu geleer en het nogal heel vlot met Biziwe kon gesels.

Hier is Fiona met 'n 'sakkie' tee. 'Everything is bigger in America'



















Vanaand het ons na 'n gratis jazz konsert in die Kraenert Hall op die kampus gaan luister. Die kunstenaars was heel goed en daar was gratis wynproe en kaas, prezels en beskuitjies.

Wednesday, February 16, 2011

Dit raak warmer

Vanoggend was so 'n pragtige oggend en die wind het nie gewaai nie, dat ons besluit het om sommer kampus toe te stap. Dit was so 'n 3/4 uur se stewige stap. Die sneeu is nou besig om te smelt en 'n mens moet maar versigtig stap met al die ys op die sypaadjies. Dit gaan soms maar so gly gly (skyt skyt?), maar ons het darem almal ongedeerd daar aangekom. Het sowaar nie eens vandag 'n serp of handskoene nodig gehad nie.

By die biblioteek aangekom, het ons by die verkeerde ingang ingegaan en so verdwaal dat ons laat by die opleidingslokaal aangekom het. Lisa Janicke Hinchliffe, President van die ACRL en Beth Woodard, koordineerder van personeelopleiding en ontwikkeling, het heeldag met ons gepraat oor inligtingsgeletterdheid. Ek het dit baie geniet en baie geleer. Ons het ook heelwat insig gekry oor wat dit beteken om 'n bibliotekaris in Amerika te wees. Dit is 'n ander ball game. Oor middagete het Lisa ons meer vertel van wat om te wagte te wees met die ACRL konferensie. Hulle verwag so 3,000 afgevaardigdes by die konferensie. Dit alles klink baie opwindend en ek sal nog 'n bietjie huiswerk moet gaan doen oor watter sessies om by te woon. Ons ontmoet nou daagliks mense wat daar as sprekers gaan optree. Dis nogal lekker en ek voel baie bevoorreg.

Nadat ons klaargemaak het vanmiddag, het ons 'n kruidenierswinkel gaan soek. Daar is vreemd genoeg niks soos 'n kafee of supermark op die kampus nie. So hier en daar 'n tipe van 'n coffee shop, maar nie 'n plek waar 'n mens kan melk koop nie en dit is wat ek vanmiddag nodig gehad het. En naellakverwyderaar. Natuurlik kry 'n mens nie klein botteltjies, so ek het 'n allemintige groot bottel gekoop wat ons nou sommer almal moet gebruik.

Tuesday, February 15, 2011

'n Heerlike dag in Bloomington


Vandag is ons met die bus Bloomington toe en watter heerlike dag. Ons het Illinois Wesleyan se nuwe biblioteek, die Ames Library besoek. Dit is 'n pragtige biblioteek met 'n ouwereldse grasie met baie houtwerk, gestoffeerde leunstoele en selfs rockers. Hulle het ons heeldag getrakteer op hoe hulle dinge doen en dit was regtig baie interessant.


Ons het 'n heerlike ligte middagete saam met hulle geniet en 'n stuk sjokoladekoek vir nagereg

gehad waaroor 'n mens regtig maar kan huis toe skryf. Uit die boonste rakke. Dit is vir my interessant hoe gereeld hulle hier vir ons koue etes voorsit in die middel van die winter.

Champaigne is nie regtig vir my mooi nie, maar Bloomington het regtig vir my 'n wonderlike bekoring gehad.

Terug by die 'huis' het ons ten spyte van die koue 'n ent gaan stap. Mense, maar so 'n sneeuwind is koud.

Vanaand het Marguerite en haar woonstelmaat, Roshni, vir ons kerrie gemaak van die oorskiet waaraan ons al die heel week eet. Dit was nou heerlik, maar ons sal nog 'n paar aande daarvan kan eet.



















Naomi en Fiona by ons blyplek in Champaigne.

Sunday, February 13, 2011

Uiteindelik in die VSA


Na 30 ure op vliegtuie en lughawens is ons uiteindelik in Urbana Champaigne. Vier van ons het weliswaar nie saam met ons bagasie hier aangekom nie, maar ons is hier en dit is spierwit gesneeu. Dit is omtrent 'n aardigheid. Die vlug vanaf Atlanta na Chicago was vir my kerskaartjiemooi. Dit het behoorlik soos 'n wit lappieskombers onder op die grond gelyk. Met my verwysingsraamwerk het ek aanvanklik gedink dit is woestynsand, maar toe besef dat dit sneeu is. In Chicago het dit liggiesweg gesneeu en die vlokkies het so donserig gelyk.

Ons wooonstelle hier in Champaigne is ruim en gerieflik. Ons deel twee twee, maar elkeen het sy eie kamer. My woonstelmaat, Naomi van Stellenbosch Universiteit, is gelukkig baie gaaf en vrygewig en het aanvanklik uitgehelp met toiletware totdat my bagasie 'n dag later hier aangekom het. Hierdie sneeuman is net agter ons woonstel gebou.

Die mense bly verwys na die 'corn fields of Illinois', wat hier oorkant die pad is, maar al wat ons sien, is sneeu. Hierdie corn fields het 'n interessante storie. Die geboue rondom, die biblioteek op die kampus ingesluit, word so ontwerp dat dit nie 'n skaduwee op die koringvelde mag gooi nie. Aanvanklik was hier blykbaar 'n landboukollege. Nou nog is hier 'n groot landbou departement.

Vandag het ons grootliks spandeer aan exploring en het twee maal baie ver gaan stap. My voete is behoorlik gedaan vanaand. Op pad busstop toe - so 'n halfuur se stap, het ons by die Illinois dome verbygestap. Illinois het teen Purdue Basketball gespeel. Illinois se ondersteuners, in helder Oranje geklee, het gestroom soontoe.



Vanmiddag was ons op 'n toer per voet van die kampus. Hier is ons klompie voor die Mortensen sentrum, waar ons vanaf more begin klas loop. Vanaand was ons die gaste van die direkteur van die Mortensen sentrum, Barbara, vir 'n vroegaandete.

Wednesday, February 9, 2011

Bon voyage


Vandag was my laaste dag by die werk en my kollegas het dit baie spesiaal vir my gemaak. Teetyd het Elsabe 'n heerlike vlakoek (my gunsteling) gebak en gebring vir ons almal om te geniet. Die banier en balonne het die hele afskeid baie feestelik en vrolik gemaak. Baie dankie, Elsabe.




Die mooie hangertjie om my nek het my vlak 5 kollegas gister vir my gegee toe ons lekker skons saamgeeet het, wat Elna se Anna vir ons gebak het. Daarmee saam het ek 'n pragtige kaartjie met persoonlike boodskappe van al die vlak 5'ers gekry - baie besonders. Vanmiddag het Elna my vir 'n heerlike middagete geneem. Sjoe, ek gaan almal vreeslik mis. Hierdie soort van hartlikheid moet uniek wees aan die Merenskybiblioteek.

Vanaand het die telefoon onophoudelik gelui van familie en vriende wat wou groet. Gelukkig het ons besluit om slaai te eet vir aandete en kon my kos nie koud raak terwyl ek op die telefoon gekuier het nie.

Wel, nou is als gepak en more-oggend 11:00 neem Zahna my lughawe toe vir die vergadering wat ons moremiddag op die lughawe het, voordat ons more-aand op die vliegtuig klim vir die laaaaaang vlug. Ek kan nie se dat ek na die vlug uitsien nie, maar ons moet seker op een of ander manier daar kom, so ....

Sunday, February 6, 2011

'n Goddelike belewenis


Donderdagaand was 'n baie besonderse aand vir my saam met ons omgeegroep. Erika het baie moeite gedoen om met mooi geestelike musieksnitte en kerse 'n wonderlike atmosfeer te skep. Ons het rustig saamgebid en daarna het Benjamin die nagmaal aan ons as geloofsgemeenskap bedien. Elkeen het 'n teksvers saamgebring wat ek met my kan saamneem en ek noem dit graag hier.

Jer. 29:11-14 Ek weet wat Ek vir julle beplan, se die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na My wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. Julle sal My ontmoet, se die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. (Benjamin)

Ps 18:3 Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. (Liana en Juan)

Fil. 4:13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. (Liana)

Ps 27:1 Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sal ek vrees? (Ria)

Ps 37:5 Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. (Johan Greeff)

Ps 1:1-3 Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van die goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. (Erika)

Rom. 8:31 God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? (Johan Beukes)

Ef. 1:16-17 Ek dink aan julle in my gebede en vra dat die God van ons Here Jesus Christus - die Vader aan wie al die heerlikheid behoort - aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken. (Sunette)

Friday, February 4, 2011

Ons presentation is klaar!!!!


Ek was gisteroggend heel oggend by Marguerite by hul biblioteek by Veeartsenykunde en daar onder die gerunnik van perde het ons ons presentation klaargemaak. Ek voel heel trots op die eindproduk.

Tuesday, February 1, 2011

Ek gaan nou in overdrive

Vandag het die 'count down' duidelik begin. Die e-posse vanaf Pat (ons organiseerder) stroom in en ek sukkel om by te hou met die lees en reageer op alles. Die konferensieregistrasie het uitsorteer nodig gehad vandag. Pat se kredietkaart wou nie deurgaan nie, ons eerste keuse hotel het nie afgekom nie, ons 'conference badges' het 'n disaster uitgekom. Maar, ons is besig om alles stuk-stuk op te klaar en teen vanaand lyk dit my het ek darem al 'n slaapplek, 'n kamermaat - Fiona Still-Drewett van Rhodes Universiteit, en 'n gekorrigeerde 'conference badge'.

Charlotte, my mentor in Purdue, en ek gaan ook die naweek van 15-17 April in Washington,DC deurbring. Ek het vanaand daardie hotelbespreking gedoen en sien uit na 'n opwindende naweek saam met haar in DC en om al die 'sights' te sien.

O, en wonder bo wonder het ek verlede week een aand die helderheid van verstand gehad en daai 'presentation' wat weg was, aan myself ge-e-pos. Die ontdek ek toe so 9:00 Maandagoggend. My kop is so vol goed op die oomblik, dat ek skoon daarvan vergeet het. Was ek nou bly om die presentation weer te sien. Nou hoef ek darem nie daardie werk oor te doen nie.